Thursday 16 January 2014

Vyfde plaasaanval vir 2014: Boer sterf in Barkly-Oos

Vyfde plaasaanval vir 2014: Boer sterf in Barkly-Oos

  5 plaasaanvalle binne vier dae, name bekend

Sarel Pretorius (61), ʼn boer van Barkly-Oos in die Oos-Kaap is dood nadat hy en sy vrou, Annemarie, Dinsdagaand op hul plaas, Rooiport, aangeval is.
Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het Woensdag aan Maroela Media gesê twee verdagtes het omstreeks 20:00 of 21:00 by die slagoffers se plaas opgedaag in ʼn wit Toyota Hilux bakkie, wat vroeër die dag in Lady Grey gekaap is.
“Die twee mans was van ʼn donker gelaat maar het baie goed Afrikaans gepraat,” het Cameron gesê. Hulle het die boer en sy vrou erg aangerand. “Inligting is nog skaars, maar ons het verneem die boer is dood, en hulle het sy vrou toegesluit, waarna hulle in die rigting van Elliot gevlug het. Ons is nog nie seker of daar enigiets by die huis geroof is nie, maar ons weet wel dat vuurwapens geroof is.”
Cameron het gesê dit is verblydend dat die plaaslike taxi-vereniging van Elliot Dinsdagaand die gemeenskapspolisiëringsforum en buurtwag bygestaan het om na die bakkie en verdagtes te soek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Volgens Cameron is dit die vyfde plaasaanval in die land vir 2014.
Die ander vier plaasaanvalle wat gedurende die afgelope vier dae voorgekom het, is soos volg:
  • 11 Januarie – Bloemspruit. Dr. Jacob Swart en sy vrou Elise is op hulle plaas deur twee mans met messe en staalpype aangeval. Aanvallers het met ’n .22 rewolwer, ’n geweer, twee selfone en ’n onbekende bedrag kontant gevlug.
  • 12 Januarie – Wallmansthal-omgewing. ‘n R5-aanvalsgeweer wat na bewering net aan die SAPD uitgereik word, is gebruik om die slagoffers, wat in hulle sestigerjare is, aan te val. Die boer is gewond en elektroniese toestelle is gesteel.
  • 14 Januarie – Waterval-omgewing buite Pretoria. Die boer is buitentoe gelok en met ‘n panga aangeval.
  • 14 Januarie – Wallmansthal. ‘n Boer is aangehou en aangerand.

No comments:

Post a Comment