Saturday 4 October 2014

Piet Rudolph

VRYHEID IN ONS LEEFTYD!
Op 31 Mei 1902, eenhonderd en twaalfjaar gelede, het die Boerevolk sy Vryheid verloor by die Vernedering van Vereeniging. Beide die twee Boere-republieke van die ZAR- wat Noord-Natal ingesluit het- en die Oranje-Vrystaat se Vryheid was daarmee heen. Om dit te kon regkry moes die Britse Veroweraar vir bykans 3 jaar ’n uitwissingsoorlog, teen die twee klein republiekies voer. Vrouens en kinders is in konsentrasiekampe vermoor; plase is afgebrand; veestapels vernietig en weerbare mans en onweerbare seuns gevange geneem en letterlik gedeporteer om hulle uit die gevegsterrein te kry! Boonop het die Britte die inwoners van sy twee kolonies letterlik geterroriseer om teen die Boere oorlog te voer omdat hulle gevrees het dat die Kaapse Afrikaner hulle by die Boere kon voeg.
Geen duideliker beskrywing kan hieroor gegee word nie as in die formidabele werk van die Staatshistorikus,dr. J.H. Breytenbach, in deel 2 van sy reeks- Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika,1899-1902- bls. 179 waar hy die volgende skryf oor ’n Britse geskiedskrywer se siening oor ’n invalsplan van lord Methuen. Volgens die Brit, sou ’n mislukking daarvan, “ slegs as aanmoediging vir die nog huiwerende Afrikaners in Kaapland gedien het om by die Boeremagte aan te sluit.”
Sedert daardie gebeure was ons nog nooit weer vry nie. Ons, die Boerevolk en sy grondgebied is agtereenvolgens deur die regerings van Groot-Brittanje, (1902-1910) die Unie van Suid-Afrika 1910-1961) en die Repu¬bliek van Suid-Afrika (1961-94) en tans deur die ANC-regering van 1994 tot op hede, bloot geinkorporeer ; en word nou deur vreemde getalle verswelg .
. Ons as Boerevolk is nooit in die tydsvakke deur enige van dié regerings, in enige opsig oor hulle lotgevalle erken nie;
. Ten spyte van ’n opstand, bekend as die rebellie van 1914 en ’n Vredes-deputasie na Versailles in 1919, is die Boerevolk se aandrang op Vryheid geïgnoreer en van die tafel gevee asof dit nooit bestaan het nie.
Ons kan nie nog 112 jaar wag voordat ons vry word nie. Die voorafgaande 112 jaar is ’n duidelike gevaarsein dat die vryheidsideaal en die herstel van die republieke se onafhanklikheid sal kwyn tot niks as daar nie nou iets DAARAAN GEDOEN WORD NIE.
Die totale Suid-Afrika het nooit uitsluitlik aan een bevolkingsgroep behoort nie.Net so was die totale wit bevolking nie almal behorende tot die Boerevolk nie. Maar die Boerevolk het sy eie grondgebied gehad.
Dit is dan ook die aanslag van ons tyd om die Boervolk, deel van ’n minderheidsgroep te maak sonder ’n eis op die herstel van ons grondgebied. Dit moet met alle mag en middele beveg word. Dit kan nou nog bereik word deur konstitusionele middele. Al hoe later sal dit al hoe moeiliker word.
Daarom moet ons Boerevolk se eis nou wees: Vryheid in ons leeftyd!

Piet Rudolph : Boere-Republikeine

No comments:

Post a Comment