Saturday 5 April 2014

Margate-Vrou Verkrag en Vermoor


Margate-Vrou Verkrag en Vermoor

SA Polisie Misdaad 640x480MARGATE – Janetta Lorraine van der Walt, ʼn 60-jarige voormalige ouditeur, is Dinsdagaand by haar huis in Margate, KwaZulu-Natal, verkrag en vermoor, het Beeld Donderdag berig.
“Die slagoffer is dood nadat sy met ʼn skerp voorwerp in haar nek gesteek is,” het kapt. Gerald Mfeka, ʼn polisiewoordvoerder, aan die dagblad gesê.
Van Der Walt, ʼn voormalige ouditeur van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in Durban, Springs en Alberton, is verkrag voor sy vermoor is.
Sy en haar suster het televisie gekyk toe sy buite toe gegaan het om ondersoek in te stel nadat sy ʼn geraas gehoor het. Haar suster het gesien hoe sy aangeval word en het hulp ontbied.
Mfeka het mense gewaarsku om nie self ondersoek in te stel as hulle ʼn vreemde geraas buite hul huise hoor nie. “Bel eerder die polisie of druk ʼn paniekknoppie, maar moet nie buite toe gaan nie,” het hy gesê.
- SAPA
Versprei die Nuus - Deel hierdie met u vriende!!

Bejaarde Vrou Vermoor


Huise in die Kruger Gardens aftreeoord waar Me Huggins vermoor is. Foto: Echofoundation
Kruger Gardens aftreeoord waar Me Huggins vermoor is. Foto: Echofoundation
PORT ELIZABETH - ’n Weerlose bejaarde dame, die 85-jarige Hazel Huggins is deur aanvallers in haar huis in Port Elizabeth vermoor.
Me. Huggins se liggaam is om 7:30 Vrydagoggend deur ’n verpleegster op die vloer van haar huis in die Kruger Gardens aftreeoord te Somerstrand aangetref.
Volgens ’n polisiewoordvoerder, AO. Alwin Labans, word daar vermoed dat Huggins na middernag vermoor is. Hy sê sy het vasgebind op die vloer gelê en haar huis is geplunder. Die oorsaak van haar dood is nog nie bekend nie en sal met behulp van ’n nadoodse ondersoek bepaal word.
Dit is nie bekend hoeveel mense in die aanval betrokke was nie, en of enigiets gesteel is nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisbraak, en versoek enigiemand met meer inligting om die polisie by 08600 10111 te bel. – Bron: Maroela Media

Bejaarde deur Tuinwerker in Huis Gemartel

Bejaarde deur Tuinwerker in Huis Gemartel

Engela Nel (86)
Engela Nel (86)
NYLSTROOM – ’n Bejaarde vrou van Nylstroom het gebid vir haar tuinwerker wat haar glo ure lank in haar huis gemartel het omdat hy geld gesoek het.
Engela Nel (86) van die Zebra Park-veiligheidsoord se gesig was meer as ’n week ná die aanval op Woensdag 19 Maart 2014 steeds pimpel en pers van die aanranding.
Die Pos berig Nel se tuinwerker van die afgelope vyf jaar het haar aangeval omdat hy R3000 gesoek het. Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, sê daar word dringend na Thomas Madimetsha Kemp (39) gesoek. ’n Foto van Kemp is eers eergister aan die media verskaf. Die polisie het nie die media van die aanval ingelig toe dit gebeur het nie.
Nadat Kemp om ongeveer 16:30 klaar gewerk het, het hy blykbaar saam met Nel kombuis toe gestap, nes altyd, waar sy hom vir die dag se werk moes betaal. Hy het ’n register gehad waarin hy gewoonlik ontvangs geteken het vir sy geld.
Engela Nel sê dat hy op dié dag kastig vir haar ’n lekkende kraan in die badkamer in haar slaapkamer wou wys, maar dat sy nie saam met hom soontoe gestap het om te gaan kyk nie. Sy het net vir hom gesê dat daar nie tyd was daarvoor nie. Sy was van plan om hom by die huis te gaan aflaai, aangesien dit gelyk het asof dit binnekort sou reën.
Kemp het haar toe glo vir meer geld gevra, maar Nel het vir hom gesê dat sy nie soveel geld het nie. Die volgende oomblik, vertel sy, het dit vir haar gevoel asof sy deel is van ’n nare droom.
Toe sy omdraai om haar motorsleutel op die kombuistoonbank te vat, het hy haar glo van agter om die nek gegryp en begin wurg. Sy is hard op die kop geslaan en het vir ’n ruk haar bewussyn verloor.
Toe sy ’n bietjie later in haar slaapkamer op die mat bygekom het, was Kemp besig om haar hande en voete vas te bind en aan die bed se pote vas te maak. Hy het ook tou om haar nek en oor haar mond vasgebind. Nel sê dat die toue só styf vasgemaak was, dat die gevoel in haar hande en voete doodgegaan het. Daar was ook baie bloed.
Sy sê dat sy vir hom gevra het hoekom hy dit doen. Hy het geantwoord dat hy R3 000 nodig het, blykbaar vir ‘n sangoma-kursus wat hy wou aflê of reeds afgelê het. Die hele tyd wat sy met hom probeer praat en by hom gepleit het om haar los te maak, het hy glo aangehou om te sê dat hy daardie bedrag geld nodig het. Sy het vir hom gesê dat sy nie soveel geld in die bank het nie, maar hy het blykbaar aangehou om vir haar te sê dat sy jok en dat hy haar nie vertrou nie.
Thomas Madimetsha Kemp (39) - Klik op foto vir vergroting
GESOEK: Thomas Madimetsha Kemp (39) – Klik op foto vir vergroting
Nel het later vir Kemp die kluis in haar studeerkamer oopgemaak, waarin daar ook niks van waarde was nie. Hy het haar toe in die studeerkamer toegesluit terwyl hy deur die huis gestap het en al die sleutels wat in die huis was, bymekaar gemaak het. Nel het die studeerkamer se duplikaatsleutel, wat toevallig ook in die kluis was, uitgehaal en die studeerkamer se deur versigtig oopgesluit. Omdat hy haar debietkaart gevat het, het sy gedink dat hy dalk gery het om te gaan kyk hoeveel geld hy uit haar rekening kon trek.
Toe sy by die studeerkamer uitstap, het hy haar egter weer van agter gegryp en gevra of sy probeer wegkom. Die toue, wat die dun vel oor haar arms en gewrigte teen dié tyd deurgeskaaf het, is nóg stywer getrek.
Teen ongeveer middernag is Kemp glo met Nel se bankkaart, selfoon, TV en motorsleutels weg. Die landlyn is blykbaar al vroeër ontkoppel en uit die studeerkamer geneem. Nel het haar handvuurwapen, wat in die studeerkamer versteek was, met haar geswelde en bebloede hande probeer laai en dit ná ’n gesukkel reggekry om twee skote af te vuur om die bure se aandag te trek.
Sy het ook een van die venstertjies in die studeerkamer se glasdeur met ’n ornament gebreek. “Ek het besluit as hy weer terugkom, skiet ek hom dood voordat hy mý doodmaak,” het Nel gesê.
In die studeerkamer het sy ook ou Telkom-telefone onder in ’n boekrak gekry en gelukkig het een van hulle gewerk. Sy het van die bure gebel en laat weet wat gebeur het. Terwyl sy besig was om oor die telefoon te praat, het sy haar aanvaller skielik wéér deur die glasvensters van die studeerkamer by die agterdeur sien inkom. Sy het hard vir haar buurman oor die foon gesê: “Bel die polisie, ek is deur Thomas (almal daar ken hom) aangeval.” Kemp het volgens haar net daar in sy spore omgedraai en verdwyn.
Een van haar bure, Theuns Minnaar, het ’n spaarsleutel vir Nel se voordeur gehad en kon die huis oopsluit. Die polisie, wat glo baie flink gereageer het op die oproep, moes egter die studeerkamer se deur oopskop om Nel te bevry, aangesien Kemp dié, sowel as alle ander sleutels in die huis met hom saamgeneem het.
Nel is eers na dr. Mich Veldman geneem om haar wonde te verbind, voordat ds. Fanie Hoffman (voorheen van die Hervormde Kerk op Nylstroom) haar teen ongeveer 01:30 die oggend na die Orania-versorgingseenheid in die Noord-Kaap geneem het, waar sy tot Sondag, 23 Maart, behandel is. Haar dogter, Estelle Pretorius, het vir ’n paar dae kom kuier sodat sy ’n ogie oor haar ma kan hou. Sy sê dat dit die vreeslikste gevoel is om in die middel van die nag wakker gebel te word en te hoor dat jou ma aangeval is.
Nel is die tweede bejaarde inwoner in ’n kort tydperk wat op Nylstroom aangeval is. Piet Venter is verlede jaar ook pimpel en pers geslaan nadat hy in sy huis by die Amarula-kompleks deur ’n mede-inwoner se seun oorrompel en aangerand is vir geld.
“Ek kan nou nog nie glo dat Thomas tot so iets in staat was nie. Ek het op ’n stadium, terwyl hy my aangehou het, vir hom gesê om my hand te vat sodat ek vir hom ook kan bid omdat hy met ’n verkeerde ding besig was,” vertel sy. Haar advies aan die gemeenskap: “Moet niémand vertrou nie.”
Ao. James Findlay, woordvoerder vir die polisie op Nylstroom, het gesê dat Nel se motor en selfoon later die nag in Kroepstraat, naby die polisiestasie, gevind is. Kemp is nog nie opgespoor nie, maar ’n saak van huisroof en diefstal van ’n voertuig is geopen. Dit word deur ao. Koos van der Berg en sy span ondersoek. ’n Beloning word aangebied vir positiewe inligting wat mag help met die ondersoek.
Pretorius het gesê haar ma is ’n sterk vrou. Sy woon nou by Pretorius in Pretoria omdat die verdagte nog nie aangekeer is nie. Enigiemand met inligting kan ao. Koos van der Berg bel by 072-534-5334.