Wednesday 15 January 2014

Antonie Horn


Forensiese toetse hoop op

Suid-Afrika se misdaad neem toe weens verskeie redes, en een daarvan is omdat forensiese toetse nie afgehandel word nie.

In verskeie gesaghebbende kringe, is kommer uitgespreek weens die feit dat sowat 60,000 forensiese toetse nog onafgehandel is, terwyl misdadigers die voordeel van die gesloer geniet.

Van die meeste toetse wat uitstaande is, was volgens die Departement van Gesondheid, ongeveer 34,185 bloed-alkohol monsters, en nagenoeg 17,000 toksikologie monsters

Dit is bekend dat solank die toetse onafgehandel is, kan die betrokke misdadigers vry rondbeweeg en selfs dieselfde oortreding weer begaan.

Die pas afgelope vakansie het juis getoon dat dronkbestuurders vir menige ongelukke verantwoordelik was.

’n Ingeligte waarnemer het aan Die Vryburger gesê die owerheid maak elke keer wanneer hulle in ’n hoek gedruk word oor oneffektiewe werk, dieselfde beloftes.

Hierdie keer was dit nie anders toe gesê is die departement is bewus van die probleem, maar dit geniet aandag.

Antonie Horn

Terroriste slaan toe op medikus

Die afgetrede mediese spesialis, dr. Jacob Swart (67) is in ’n baie ernstige toestand na ’n terroriste aanval op hom en sy vrou, op hul plaas in die Bloemspruit omgewing.

Hy en sy vrou, Elise (65), is deur twee terroriste aangeval, wat hom met ’n staalpyp geslaan het met die doel om hom te vermoor, en die egpaar is daarna herhaaldelik met ’n mes gesteek.

Die twee terroriste het later met sy Hilux-bakkie, registrasie DVB 913 FS, asook sy rewolwer, ’n geweer, selfone en kontant op die vlug geslaan.

Woordvoerder kapt. Harry Nagel van die polisie sê twee mans het dr. Swart by die watertenk naby die huis oorrompel en hom aanhoudend met ’n staalpyp geslaan.

Die twee terroriste het die egpaar op ’n bed vasgemaak, waar hulle met ’n mes gesteek is. Mev. Swart kon later daarin slaag om haar los te kry en het gaan hulp soek.

Dr. Swart is opgeneem in die Mediclinic, waar hy versorg word. Sy toestand is baie ernstig, maar stabiel.

Mevrou Swart is ook stabiel, alhoewel sy baie pyn moet verduur.