Saturday 18 January 2014

Kind (5) kry glo pak op tweede dag van skool

ʼn Ontstoke ouer van Koppies in die Vrystaat het haar twee kinders uit Laerskool en Hoërskool Sarel Cilliers verwyder, nadat haar vyfjarige seuntjie op sy tweede dag van graad R glo pakslae by sy onderwyseres gekry het.
“My kind was Woensdag so opgewonde toe hy skool toe moes gaan, hy kon omtrent nie wag nie,” het die ouer, Nadia Potgieter, ʼn ma van drie kinders (onderskeidelik 3, 5 en 10 jaar oud), Vrydag aan Maroela Media gesê. “Toe ek hom aflaai by die skool het hy nie eens gehuil nie en vir my gesê ‘sien mamma later’.”
Potgieter sê toe sy haar seun die middag by die skool gaan oplaai, het hy gesê hy wil nie weer skool toe gaan nie. Sy het hom daaroor uitgevra, maar hy het nie verder uitgebrei nie.
“Toe ek hom Donderdagoggend wakker maak, het hy weer gesê hy wil nie skool toe gaan nie, maar ek het hom gedwing om te gaan. Omdat hy moeilik was, het ek saam met hom tot in die klas gestap. Hy het egter geskree en agter my uit die klas gehardloop. Ek het hom weer in die klaskamer in gevat, waarna hy weer uitgehardloop het. Ek is vir die derde keer met hom in die klaskamer in waarna die onderwyseres vir my gesê het ek moet eerder gaan, dan sal hy nie weer uit hardloop nie. Ek is toe daar weg, maar het vir 10 minute lank so ent verder gaan staan en wag, want hy wou nie ophou huil nie.”
Sy het ná 10 minute besluit om terug te gaan na die klaskamer waar sy na bewering self gesien het hoe die juffrou haar seun ʼn paar klappe met die plathand op sy boud gee. “Mens kon dit tot in die Kaap gehoor het so hard was dit,” het Potgieter gesê. Sy het glo op die juffrou afgestorm en vir haar gevra wie haar die reg gegee het om die kind te slaan. Die juffrou het glo beweer die kind het haar geslaan, geskop en gebyt. “My kind doen dit nie eens by die huis nie, hoekom sal hy dit daar doen?”
Potgieter is direk na die voorval na die onderhoof se kantoor waar sy haar ingelig het oor die voorval. “Die onderhoof het vir my gesê dat ek moet kalmeer en dat ons daaroor moet praat, want ek het vir haar gesê ek gaan ʼn saak van aanranding by die polisie aanhangig maak.” Potgieter is van daar na die Koppies-polisiestasie toe waar sy die saak aanhangig gemaak het.
“Ek is weer terug na die skool om my kind se skryfbehoeftes te gaan haal en my oudste seun uit die skool te haal, want ek is bang hy gaan geviktimiseer word. Ek, my ma en my suster het toe saam met die onderwyseres ʼn vergadering by die hoof belê. Die onderwyseres het soveel onsin kwyt geraak dat ek uit woede daar uitgestorm het,” sê Potgieter
Sy is in die proses om vir haar kinders ander skole te soek en sê sy wag nou vir die polisie se ondersoek om die pad vorentoe te bepaal. “My kind het nou ʼn vrees vir skole, ek hoop net alles kom reg,” het sy gesê.
Kapt. Naude, stasiebevelvoerder van die Koppies-polisiestasie, het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat ʼn saak van aanranding daar aanhangig gemaak is. Hy kon nie verder oor die saak uitbrei nie en gesê dit word ondersoek.
Martinus Willemse, die skoolhoof, het aan Maroela Media gesê hy het die saak by sy hoofde by die departement van onderwys aangemeld vir verdere ondersoek. Hy het ook gesê die skool gee sy volle samewerking aan die polisie. Hy is deur die departement aangeraai om nie verdere kommentaar te lewer nie.
Howard Ndaba, ʼn woordvoerder van die Vrystaatse departement van onderwys, het aan Maroela Media gesê oor die algemeen is enige vorm van lyfstraf ʼn kriminele misdryf en word dit glad nie by skole aangemoedig nie. Hy het gesê dit is goed dat die ma die saak by die polisie aangemeld het, sodat dit ondersoek kan word en die reg sy pad kan gaan. Hy het ook gesê die departement sal ʼn interne ondersoek van stapel stuur.

“Toe ek hom Donderdagoggend wakker maak, het hy weer gesê hy wil nie skool toe gaan nie, maar ek het hom gedwing om te gaan. Omdat hy moeilik was, het ek saam met hom tot in die klas gestap. Hy het egter geskree en agter my uit die klas gehardloop. Ek het hom weer in die klaskamer in gevat, waarna hy weer uitgehardloop het. Ek is vir die derde keer met hom in die klaskamer in waarna die onderwyseres vir my gesê het ek moet eerder gaan, dan sal hy nie weer uit hardloop nie. Ek is toe daar weg, maar het vir 10 minute lank so ent verder gaan staan en wag, want hy wou nie ophou huil nie.”boudjies

No comments:

Post a Comment