Sunday 12 January 2014

AfriForum skep polisietaalklagtekanaal ná 10111-noodlyn diens in Afrikaans weier

AfriForum moes onlangs tydens ʼn poging om ʼn misdaad aan te meld, aanhoor dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se 10111-noodlynoperateurs weier om oproepe in Afrikaans te aanvaar. Toe daar om Afrikaanse diens gevra is, is die oproep summier deur die 10111-operateur afgesny. Die nooddienssentrum tree nie net ongrondwetlik op nie, maar stel ook letterlik inbellers se lewens in gevaar met die optrede. AfriForum is van plan om die saak met die Nasionale Polisiekommissaris, Riah Phiyega, te bespreek en het ʼn klagtekanaal op AfriForum se webwerf (www.afriforum.co.za) van stapel gestuur om te verneem van lede van die publiek wat soortgelyke ervarings gehad het.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum wat verantwoordelik vir taalkwessies is, is dit die hoeveelste voorbeeld van die SAPD se verontagsaming van hulle verantwoordelikheid om minstens in alle amptelike landstale diens te lewer, soos die Grondwet, Wet op die Gebruik van Amptelike Tale en ook die Dienshandves vir Misdaadslagoffers voorskryf.
“AfriForum beskou hierdie jongste insident in ʼn uiters ernstige lig, aangesien dienslewering deur die 10111-nooddienspersoneel letterlik lewensnoodsaaklik is,” het Bailey gesê.
Die publiek kan op www.afriforum.co.za na een van die oproepe luister waar diens geweier word.
Op 7 Januarie 2014 het AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, Ernst Roets, ʼn klagte teen die Lyttelton polisiestasie in Centurion gelê weens weiering om ʼn Afrikaanse verklaring van hom oor ʼn diefstal-insident te aanvaar. Die klag het positiewe gevolge gehad – AfriForum en die polisiestasie werk tans in ʼn goeie gees saam aan maatreëls om te verseker dat ʼn soortgelyke probleem nie weer daar voorkom nie. Meer inligting sal volgende week hieroor bekendgemaak word.
Ongelukkig word nog klagtes oor die polisie se eentalige Engelse dienslewering ontvang.
“Alle Suid-Afrikaners is nie Engels magtig nie of hulle Engels is nie van so ʼn aard dat hulle verklarings daarin kan aflê óf afneem op ʼn standaard wat in ʼn hof sal kan standhou nie. Taalprobleme kan letterlik die regsproses verydel. Misdaadslagoffers het die reg om in hulle eie taal diens te ontvang en AfriForum wil toesien dat die SAPD hierdie plig teenoor die publiek nakom,” het Bailey beklemtoon.
Enigeen wat taalprobleme by enige Suid-Afrikaanse polisiestasie, of tydens ʼn oproep na 10111 ervaar het, word versoek om die inligting aan AfriForum bekend te maak deur ʼn vorm op die webwerf www.afriforum.co.za in te vul, of dit aan afriforum@afriforum.co.za te stuur. AfriForum onderneem om die klagtes onder die kommissaris van polisie se aandag te bring en so gou as moontlik volhoubare oplossings daarvoor te probeer vind.

No comments:

Post a Comment