Thursday 23 January 2014

Pta-pa in huisrooftog vermoor

Pta-pa in huisrooftog vermoor

  Elaine Swanepoel

Donderdag 23 Januarie 2014
’n Man van Kameeldrift, Pretoria, is gisteroggend vroeg dood toe vyf gewapende rowers hom oorval en een hom in die gesig geskiet het.
Francois Meyer (50), wat in die staalbedryf gewerk het, was gister omstreeks 06:30 besig om sy kantoor aan die kant van sy huis op die Kameelfontein-hoewes by Kameeldrift oop te sluit toe vyf rowers met klein handwapens hom oorval het.
Die rowers is tussen 20 en 30 jaar oud.
Volgens Mirna von Be­necke, polisiewoordvoerder, was Meyer se vrou, Annelien (49), nog in die huis toe sy ’n skoot gehoor het. “Sy is na die kantoor om ondersoek in te stel en is deur twee van die aanvallers op die trappe na die kantoor voorgekeer,” het Von Benecke gesê.
“Hulle het haar na die kantoor geneem waar nog drie rowers haar ingewag het. Francois het op die vloer gelê met ’n skietwond in die gesig.”
Volgens Von Benecke het die rowers die vrou vasgebind en ’n handwapen, haelgeweer en ’n onbekende bedrag geld gebuit voordat hulle van die toneel gevlug het.
Meyer is op die toneel dood.
Carl Jordaan, ’n werker in die Kameeldrift-krisissentrum, het hom uitgespreek oor die wreedheid van die aanval.
“As krisiswerkers sien ons te veel sulke gevalle en het mens soms nie woorde om slagoffers wat soveel trauma ervaar behoorlik te ondersteun nie.”
Volgens Jordaan was die egpaar se dogter ontroosbaar toe hy daar aangekom het. Sy het sy by haar pa gekniel en sy hand vasgehou terwyl sy bitterlik gehuil het.
“En êrens daar buite loop mense rond wat sonder om te huiwer koelbloedig moord sal pleeg.”
Von Benecke het gesê die Kameeldrift-polisie ondersoek ’n saak van moord en roof.

No comments:

Post a Comment