Saturday 24 May 2014

Bejaarde egpaar dood geskiet


Bejaarde egpaar dood geskiet

Sandra (80) en Louis Swanepoel (82)
Sandra (80) en Louis Swanepoel (82)
PRETORIA – ‘n Bejaarde egpaar is vanmiddag dood in ‘n skietery in hul huis op ‘n kleinhoewe by Mooiplaats, oos van Pretoria. Die egpaar se seun het op die bebloede lyke van Louis Swanepoel (82) en sy vrou Sandra (80) afgekom.
Die besonderhede van die voorval is vaag, maar die polisie het bevestig Johan Swanepoel het omstreeks 12:30 die gru-ontdekking gemaak. Swanepoel snr. is klaarblyklik in die slaapkamer dood en mev. Swanepoel se lyk is in die gang by die agterdeur gevind. Swanepoel jnr. het by sy ouers gebly maar het vanoggend vroeg die huis verlaat.
Volgens Kaptein Marissa van der Merwe, Boschkop polisiewoordvoerder, is die omstandighede rondom die voorval in dié stadium van die ondersoek vreemd. Daar moet nog bepaal word of enigiets uit die huis vermis word. Van der Merwe het besvestig Swanepoel snr. is weens ‘n skietwond dood maar kon nie sê of mev. Swanepoel ook geskiet is nie.
‘n Bedroefde Swanepoel jnr. was laatmiddag nog te geskok om met die media oor die voorval te praat. Hy het gesê daar was ‘n hegte verhouding tussen hom en sy ouers. Die egpaar se huis is skaars ‘n kilometer vanaf die Boschkop polisiestasie geleë. Hulle het die afgelope 33 jaar in die huis gewoon.
Bennie Malan, ‘n polisiereservis, het gesê Swanepoel snr. was ’n merkwaardige man. “Op 80 het hy sy motor nog self sy motor onderhou en hy was altyd bereid om ander met herstelwerk te help.” Mev. Swanepoel was ‘n afgetrede onderwyseres. “Sy was baie geliefd en het ons kinders opgepas as ons met reserviswerk besig was,’’ het hy gesê.
Van der Merwe was vol lof vir die buurtwag en sekuriteitsmaatskapy wat in die ongewing aktief is. “Was dit nie vir hulle nie was ons verlore. Die skielike eskalasie van misdaad in die omgewing is ongewoon.” Dit is die tweede voorval hierdie week waarin bejaardes van die omgewing op ‘n geweldadige wyse dood is.
Charles Groenewald is Maandag tydens ‘n rooftog in sy huis doodgeskiet. Hy het homself probeer verdedig en een van sy aanvallers, na bewering ‘n polisiereservis van KwaNdebele, doodgeskiet.- Rekord East

No comments:

Post a Comment