Friday 10 January 2014

Antonie Horn

Metropolisie skiet glo straatverkoper oor piesangs

ʼn Straatverkoper is glo in Pretoria se middestad geskiet nadat hy geweier het om sy voorraad aan die Tshwane-metropolisie te oorhandig.

Volgens Shoes Maloka, die woordvoerder van die Tshwane Handelaarsforum, is die slagoffer, Foster Jan Rivombo, Woensdag van naby deur ʼn metropolisiebeampte geskiet. “Daar was ʼn stryery tussen die straatverkopers en metropolisebeamptes. Een van die beamptes het sy vuurwapen te voorskyn gebring en Rivombo geskiet omdat hy sy piesangs wou vat,” het Maloka gesê.

“Nadat hulle Rivombo geskiet het, het hulle hom in ʼn bakkie gelaai en vir drie ure lank nie ʼn ambulans ontbied nie. Sommige verkopers het daarop aangedring dat ʼn ambulans ontbied word, waarna hulle in hegtenis geneem is.”

Maloka het gesê die forum se leier het Donderdag die hele dag tevergeefs probeer om die straatverkopers uit aanhouding te kry.

Senior supt. Isaac Mahamba, woordvoerder vir die Tshwane-metropolisie, het navrae oor die voorval na die burgemeester se woordvoerder, Blessing Manale, verwys. Manale kon nie Donderdag vir kommentaar bereik word nie.

No comments:

Post a Comment